Search This Blog

YouTube
Google+
Facebook
Twitter
Without books the development of civilization would have been impossible. They are the engines of change, windows on the world, ''Lighthouses'' as the poet said ''erected in the sea of time.'' They are companions, teachers, magicians, bankers of the treasures of the mind. Books are humanity in print. 
Arthur Schopenhauer

Oct 31, 2010

Die verborge skandvlek van die Boereverraaiers

'n Nuwe boek oor verraad en teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog werp nuwe lig op die invloed wat Boereveraad op die kollektiewe Afrikanerspsige gehad het. Die skrywer Albert Blake verduidelik.

Aan die einde van Julie 1901 ontvang ’n jong Afrikanervrou van Wakkerstroom in die Oos-Transvaal die skrikwekkende tyding dat haar man en haar vier broers deur hul voormalige kommando-kamerade weens verraad gefusilleer is.

Hulle is almal saam in een graf begrawe. Haar vyfde broer, wat die doodstraf vrygespring het, is met lyfstraf afgeransel en moes doelbewus wegkyk om nie te sien hoe sy broers tereggestel word nie.

Vroeër dieselfde jaar tref ’n soortgelyke tragedie ’n ander jong Afrikanervrou van Hartbeesfontein in die Wes-Transvaal toe haar man saam met haar pa en swaer as verraaiers voor ’n vuurpeloton sterf.

Die jong burgers wat deel van die vuurpeloton was, was so senuweeagtig dat hulle een van die veroordeeldes net gewond het. Hy moes toe weer geskiet word.

En in Oktober van dieselfde jaar moes ’n bittereinder-pa sy twee verraaier-seuns by Hoopstad in die Vrystaat gaan groet voordat hulle gefusilleer is deur burgers van dieselfde kommando waartoe hy behoort het.

In nog ’n geval is twee verraaiers suid van Heidelberg tereggestel. Van die vuurpeloton-lede was bloedverwante van die terdoodveroordeeldes. Boonop het een van die tereggesteldes as onderwyser vir byna die helfte van die lede van die vuurpeloton skoolgehou.

En só kan mens voortgaan. Tragedies soos dié het hulle deur die hele oorlog afgespeel. Tog maak die magdom publikasies wat die afgelope 11 dekades oor die Anglo-Boereoorlog verskyn het bitter min hiervan melding en het die intieme besonderhede van die omvang van Boereverraad tydens die oorlog grootliks onbekend en onontgin gebly.

Hoekom is dit? Hoekom het die storie van verraaiers en die omstandighede rondom hul dood skynbaar uit die Afrikaner se historiese geheue verdwyn, terwyl die meeste ander fasette van die oorlog redelik volledig opgeteken is?

Op merkwaardige wyse het die Afrikaner die teregstellings en eintlik die hele verskynsel van verraad reeds kort ná die beëindiging van die oorlog in 1902 bewustelik en onbewustelik uit sy geheue begin werk, totdat die gebeure grootliks aan die vergetelheid prysgegee is.

Dié verskynsel is aangehelp deur Afrikaner-nasionalisme, wat ná die oorlog al hoe kragtiger geword en hard gewerk het om ’n trotse Afrikaner-verlede te gedenk. Daar is immers niks te vier of om trots op te wees as van jou eie mense verraad pleeg nie. Mettertyd het Afrikaner-nasionalisme die Anglo-Boereoorlog vir homself as ’n heroïese stryd toegeëien en die skandvlekke van ’n oneervolle verlede weggevee. Meer as net die name van die verraaiers is verswyg. Daar was ’n besliste mening dat dit beter was om hul dade en invloed heeltemal van die nageslag te weerhou. Die verraad was ’n diepe verleentheid vir die meeste Afrikaners.

Selfs 73 jaar ná die oorlog het senator J.P. van der Spuy, die destydse minister van opvoeding, in 1975 ’n merkwaardige opdrag aan die Bloemfonteinse argivaris gegee dat die lêers wat die name bevat van sekere Vrystaatse burgers wat aan die kant van die Britte geveg het, tot in die jaar 2000 vir navorsers en die publiek geslote moet bly.

’n Mens kan maar net bespiegel wat Van der Spuy genoop het om so ’n besluit amper ’n driekwarteeu ná die einde van die oorlog te neem.

Nietemin toon dit hoe sensitief die verraaierverskynsel steeds dekades ná die oorlog beskou is.

Die Afrikaner wou om verstaanbare redes ná sy folterende ervaringe in die konsentrasiekampe en ander beproewinge nie aan nog onaangename traumas van die oorlog herinner word nie. Daarvoor het die oorlog genoeg smart meegebring en niks betreffende die fusillerings doen enige van die betrokke partye eer aan nie.

Waar die teregstellings wel in enkele gepubliseerde werke aandag kry, is dit opvallend dat die name van die tereggesteldes doelbewus verswyg word.

In die Britse geskiedskrywing het die verraaiervraagstuk ook weinig aandag gekry. In 1985 het Emanoel Lee in To the Bitter End nog soos volg oor die joiners opgemerk: “The story of these Boer volunteers is a sad, in some cases disreputable one, which has received little atten-tion in Britain…Amongst Afrikaners they are remembered to this day with such hatred that it is almost impossible to get any information about them.”

In 1979 het Thomas Pakenham tot ’n soortgelyke gevolgtrekking in sy gewilde The Boer War gekom: “The fact that a fifth of the fighting Afrikaners at the end of the war fought on the side of the British was a secret that has remained hidden till today.”

Die miskenning van die verraaierverskynsel het veroorsaak dat ’n behoorlike ondersoek na en verwerking van die gebeure nooit plaasgevind het nie.

Die versuim om dit te doen het waarskynlik daartoe bygedra dat die ontwikkeling van ’n tradisie van kritiese selfondersoek onder Afrikaners lank aan bande gelê is.

J.A. Coetzee se standpunt in 1941 oor die openbaarmaking van die verraad was ’n stem roepende in die woestyn: “Dis nodig om hierdie verskynsel te ondersoek. Dit help nie om siekteverskynsels toe te smeer of weg te steek nie; dan vergiftig hulle net nog meer die liggaam. Dis beter om die siekte bloot te lê sodat, as dit nie ongeneeslik is nie, die regte medisyne toegedien kan word.”

Terwyl daar ’n doelbewuste poging was om die verraaierverskynsel te verswyg is al die newegevolge daarvan in ’n rou, onverwerkte vorm deur die Afrikaner deur die dekades saamgedra. Dit het bepaalde langdurige gevolge ingehou. Die skande van verraad en die onverwerkte trauma weens die teregstellings het ’n bepaalde impak op die ontwikkeling van die politieke psige van die Afrikaner gehad.

Die persoonlike lyding wat die oorlog vir al die betrokke partye meegebring het, is onmeetbaar. Die verbittering weens verraad deur hul eie mense moes die bittereinders se emosionele las selfs nog swaarder gemaak het. Daarteenoor is die hensoppers en joiners, asook hul families, deur hul gemeenskappe vervreem. As joiners nie belydenis van hul skuld wou doen nie, is hulle Nagmaal geweier, met die gevolg dat ’n hele klomp uit die Afrikaner-kerke gedryf is. Meer as ’n dekade ná die oorlog sê ’n verbitterde Afrikanervrou nog oor die joiners: “Ons moet ons kinders leer om hulle te haat, haat, haat!”

Selfs nog heelwat later merk ’n oudstryder op: “Sommige Boere het vasgestaan en geen kind of kindskind met ’n hens­opper of selfs ’n familielid van ’n hensopper laat trou nie.”

Die verraaierverskynsel het daartoe bygedra dat Afrikaners polities onverdraagsaam teenoor andersdenkendes geword het. Dit was gegrond op die vaste oortuiging dat daar nooit weer verraad mag wees nie en dat dit tot elke prys verhinder moes word. Saam met ander faktore het die verraaierverskynsel daartoe bygedra dat ’n kultuur geskep is waarin andersdenkendheid as afwykend beskou is, veral wanneer tradisionele Afrikaner-beginsels bevraagteken is.

Afrikaner-nasionalisme het dus toenemend inklusief geword wanneer politieke -vraagstukke gehanteer is. Dit het die onverdraagsaamheid en wantroue teenoor andersdenkendheid gelei.

Dit was ’n geval van dié wat nie saamstem nie, is afvallig en gevolglik ontrou aan die Afrikanersaak. Die groeiende ideaal van ’n eensgesinde, monolitiese Afrikanerdom moes beskerm word, al was dit in isolasie. Die Afrikaner is daarom dikwels daarvan beskuldig dat hy ’n laertrek-mentaliteit openbaar. Die mening is in onlangse tye uitgespreek dat die oorlog so ’n ingrypende en langdurige uitwerking op die Afrikaner se psige gehad het dat dit uiteindelik tot die vestiging van die apartheidsbeleid bygedra het.

Historici het tot dusver skynbaar ook nie veel waarde aan die impak van die verraaierverskynsel op die latere Afrikanerpolitiek geheg nie. Daar is gemeen die onderlinge verdelingslyne van die oorlog het nie ’n betekenisvolle uitwerking op die politiek van die eerste 50 jaar van die vorige eeu gehad nie. Die gevolge van ’n ingrypende verskynsel soos verraad verdwyn egter nie net in die niet nie.

Die ontwikkeling van die Afrikaner se politieke denke gedurende die 20ste eeu kan slegs na behore verstaan word met ’n kennisname van die gevolge wat die verskynsel van verraad daarop gehad het.

Die teregstellings van die verraaiers is ’n morbiede geskiedenis, maar een wat noodwendig vertel moet word.

Boereverraaier: Teregstellings tydens die Anglo-Boereoorlog deur Albert Blake word deur Tafelberg uitgegee en word beskou as een van die volledigste studies tot nog toe oor die verskynsel van verraad en die teregstellings van Boereverraaiers tydens die oorlog.

Besoek www.tafelberg.com vir meer inligting.

Bron: Rapport

0 comments: